Issued by Cilliers Brink MP – DA Shadow Minister of Cooperative Governance and Traditional Affairs

08 Sep 2021 in News

Hierdie opiniestuk deur DA MP Cilliers Brink verskyn oorspronklik op Netwerk24 op 8 September 2021.

Verlede week se uitspraak van die konstitusionele hof het soos ’n bom in die ANC se gesig ontplof. Dis nog te vroeg om te sê, maar die skade is dalk onherstelbaar.

In die laaste munisipale verkiesing in 2016 het die DA die ANC verbygesteek in Tshwane en Nelson Mandelabaai, en die ANC tot onder 50% gedruk in Johannesburg en Ekurhuleni.

Maar in 2021 kan die ANC, by verstek, wyke en hele munisipaliteite verloor omdat die party nie genoeg kandidate benoem het nie.

Dit sal afhang van die vertolking van die konstitusionele hof se uitspraak, veral die vraag of die ANC toegelaat sal word om sy kandidatelyste aan te vul.

Hoe dit ook al sy, die ANC is só deurmekaar en verdeeld dat hy kwalik sy getrouste kiesers kan begeester om in groot getalle te gaan stem.

Dit maak die politiek baie opwindend.

En so sien die Demokratiese Alliansie (DA) ’n kans om ons winste van 2016 te konsolideer en 50% plus een te kry in verskeie voormalige ANC-rade.

Maar opposisiekiesers moenie te gerus raak nie. Die ANC is verswak, maar nog nie verslaan nie. Die ANC het steeds sy tentakels in die meeste staatsinstellings en staatskaste.

Kaders en comrades word beloon met poste en tenders. Arm kiesers word óf omgekoop met kospakkies óf afgepers met die afsny van welsynstoelaes.

En dan is daar oorgenoeg kommentators en beriggewers wat meer belangstel in die splinter in die DA se oog as die balk in die ANC se oog.

Onbekwaam vang sy baas

Ondanks sy klomp voordele kon die ANC nie volledige kandidatelyste opstel en betyds indien vir vanjaar se munisipale verkiesing nie.

Die probleem het egter vroeër begin. Nog voor die derde vlaag van Covid-19 en die KZN-onluste kon die ANC nie ’n kiesersregistrasieveldtog van stapel stuur nie.

Terwyl die sukses van enige politieke party tot ’n groot mate afhang van hoeveel van sy ondersteuners hy by die stembus kan kry, het ’n mens skaars ’n ANC-plakkaat gesien wat registrasie aanmoedig.

En in ’n stadium het ANC-leiers besef dat dit hulle nie sal pas vir Suid-Afrikaners om vanjaar te stem nie.

Covid-19 was die verskoning, nie die rede nie. Soos gewoonlik was daar oorgenoeg nuttige idiote wat saamgesing het in die ANC-koor.

Die ANC het dus gereken op die krag van sy tentakels. Die grondwet sou gebuig word om die ANC te pas.

Die Verkiesingskommissie (nee, nie “onafhanklik” nie) was inskiklik. Maar die grondwetlike hof was nie.

En selfs al is daar ’n skuiwergat in die uitspraak wat die ANC sal toelaat om sy kandidatelyste aan te vul, sal die poespas binne die ANC die party steeds stemme kos.

Maar die ANC het twee baie goeie vriende in hierdie verkiesing wat hom dalk net genoeg hulp sal verleen om sy magsposisie in baie dorpe en stede te behou.

Op moedverloor se vlakte

Eerstens hoop die ANC dat opposisiekiesers nie sal stem nie omdat hulle reeds ANC-oormag aanvaar het, of gewoon nie meer glo in die moontlikheid van verandering by die stembus nie.

In plekke waar die DA in 2016 nie kon wen nie of op onbetroubare koalisies moes steun, hoop die ANC dat opposisie-kiesers moed verloor het.

“Die ANC sal altyd wen”, en “niks sal verander nie” is baiemaal selfvervullende profesieë, veral in munisipaliteite waar die meerderheid na enige kant toe kan swaai soos Potchefstroom (JB Marks), Krugersdorp (Mogale City) en Sasolburg (Metsimaholo).

Spits ook jou ore vir stellings soos “alle politieke partye is dieselfde”, veral as dit op SABC-radiostasies gemaak word. Dis ANC-verskansingspropaganda.

Versplintering

Tweedens sal die ANC reken op die versplintering van die opposisiestem. Hoe meer mededingers die ANC het, hoe minder hoef die party hom oor elk van hulle te bekommer.

’n Scenario waar Afrikaanse kiesers, Engelse kiesers, bruin kiesers, Christen-kiesers en Moslem-kiesers elk vir ’n afsonderlike party stem, is presies wat die ANC wil hê.

Die meeste randpartye groei ten koste van die DA, nie die ANC nie. In baie gevalle is hulle ook reeds ANC-koalisievennote.

Good se leier dien in pres. Cyril Ramaphosa se kabinet. Die Patriotic Alliance en Al Jama-ah hou die ANC aan bewind in Johannesburg.

Dieselfde rol word in Ekurhuleni deur Izak Berg se Independent Ratepayers Association (IRASA) gespeel. Vir sy gedienstigheid is Berg met ’n komiteevoorsitterskap beloon. Daar sal baie Berge in hierdie verkiesing wees.

Wie bly dan oor in die townships?

Vanuit die ANC se oogpunt het die versplintering van die opposisiestem egter ’n onbedoelde gevolg: net die EFF bly oor om ANC-stemme in die townships op te raap.

Die EFF is meer van ’n ANC-faksie as ’n opregte opposisie-party, en as die randpartye die DA in sy eie wyke besig hou, is dit die EFF wat in groot getalle aan swart kiesers se deure gaan klop.

Maar dit hoef nie so te wees nie. Die beste reaksie op ’n verswakte ANC is ’n versterkte DA wat opposisiekiesers kan verenig en wen.